Op die AWSUM rusbank met Hoërskool Duineveld se hoofdogter vir 2022
ADVERTISEMENT
Op die AWSUM rusbank met Hoërskool Duineveld se hoofdogter: Riana Archer
Baie geluk met jou verkiesing as hoofleier by jou skool. Waarna sien jy die meeste uit tydens jou tydperk as leier by jou skool? Ek sien die meeste daarna uit om in samewerking met my mede-leiers altyd so op te tree dat ons ‘n verskil kan maak in die skool deur altyd ‘n positiewe ingesteldheid te hê, maak nie saak wat oor ons pad kom nie, asook vir al die onbekende uitdagings wat op ons wag in 2022.
Wat sou jy sê is jou sterk- en swakpunte? Ek sal sê ek is eerlik en regverdig en help graag waar ek kan. My swakpunte is dat ek soms te perfeksionisties is en ek kan ook sommige situasies te veel oordink.
Is daar enige iets wat jy graag sou verander by jou skool? Ek is baie trots op Hoërskool Duineveld en op wat ons skool al alles bereik het. As ek een ding kan verander, sal ek graag die kommunikasie onder leerders en leerders en onderwysers wil verbeter, sodat ons mekaar se besluite en denkwyses beter kan verstaan.
Wat geniet jy die meeste van jou skool? Wat ek die meeste geniet van Duineveld, voor Covid-19, was toe ons as skool saam die skoollied met trots uit volle bors kon sing na ‘n Interjol rugby-wedstryd. Ek geniet ook die familie gevoel wat Veltieland skep met die wete dat jy nooit alleen is nie en altyd ondersteuning het.
Matriek is jou laaste jaar- van ‘n akademiese oogpunt, wat sal jy graag wil bereik? My doelwit is om aan die einde van matriek ‘n gemiddelde A te kry op my NSS sertifikaat.
Enige boodskap van aanmoediging vir jou mede-leiers? My boodskap aan my mede-leiers sal wees dat elkeen net sy/haar beste moet gee en streef na uitnemendheid in alles wat hulle aanpak en om elke geleentheid met albei arms aan te gryp en te onthou dat ons daar is om mekaar te help. Die belangrikste is ook om te onthou dat niks ontmoontlik is vir God nie, en dat jy tot alles is staat is deur Hom wat jou krag gee.
Wie is jou rolmodel? My rolmodel is Kate Middleton, want sy is nederig en help altyd ander, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Sy gee om vir haar medemens en kyk ook nie neer op mense nie, maak nie saak in watter gesag posisie sy is nie.
Wat is jou planne vir na skool? Ek wil graag na skool B.Rek gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, want ek wil graag ‘n rekenmeester word.
As jy ‘n super-hero kon wees, wie sou dit wees en waarom? As ek ‘n super-hero kon wees sou ek Supergirl wou wees, want sy is goedhartig en veg vir reg en geregtigheid, sy help ander sonder om gevra te word en sy streef na ‘n beter toekoms vir almal in die wêreld.
Op ‘n normale Saterdag, sal ons jou kry by… saam met… Op ‘n normale Saterdag sal jy my kry by my ouma en oupa se huis waar ons familie almal lekker saam braai.
Wie is jou Hollywood ‘celeb crush’? Zac Efron van “High Scool Musical”
Kies een:
- Netbal, rugby, krieket of hokkie? Ek kies netbal, want dit is die lekkerste om op die baan uit te draf saam met jou “sussies” terwyl die adrenalien pomp soos almal wag vir die fluitjie om te blaas.
- Cappuccino, warm sjokolade of tee? Definitief ‘n lekker koppie Rooibos tee.
- Braai saam met vriende of ‘n wegneemete? Braai saam met vriende is altyd lekker geselig.
- Vir ure lank jou gunsteling TV-reeks kyk of ‘n musiekfees bywoon? Ek sal vir ure kan onstpan deur my gunstelling TV-reeks te kyk
- Andriod of iOS? Dit maak nie regtig saak nie, ‘n selfoon is mos maar ‘n selfoon. As ek die mense wat ek soek kan kontak is ek gelukkig.