Hoërskool Martin Oosthuizen hou Eeufees Kranslegging Seremonie
Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar. Een van die vele geleenthede wat deur die skool aangebied is om hierdie mylpaal te vier was ‘n kranslegging seremonie by die graf van mnr. Martin Oosthuizen na wie die skool vernoem is. Die kranslegging is gedoen deur mnr. André Mouton (skoolhoof) en Shireen Wiese en Johan Oberholzer (SR-voorsitters 2020)
Mnr Oosthuizen was ‘n revolusionêre onderwysman. In 1919 kom hy na Kakamas as nuwe skoolhoof van die laerskool op die dorp. Gou het hy die behoefte aan sekondere onderwys besef en in 1920 word daar begin met die hoërskoolafdeling. Onder sy hoofskap groei die skool tot ‘n volwaardige hoërskool.
Vanaf sy eerste dag op Kakamas het hy die behoefte geïdentifiseer om die leerder wat nie verder sou gaan of kon studeer na skool nie en op Kakamas op die plase sou agterbly, te bemagtig. In 1937 onderneem mnr. Oosthuizen ‘n wêreldreis waar hy onder meer Amerika en Japan besoek om spesifiek na hulle beroepsgerigte onderwysmodelle te kyk – ‘n onderwysmodel waar praktiese opleiding die hooffokus is – iets wat hom baie geïnteresseer het.
Met sy terugkoms op Kakamas sit mnr Oosthuizen die bal aan die rol en word Hoërskool Kakamas die eerste skool in Suid-Afrika om praktiese landbou as ‘n volwaardige matriekvak aan te bied. Vinnig ontstaan die behoefte aan grond vir die opleiding van die boere van more en so bekom die skool sy eerste stukkie grond – geskenk deur die kerk. Oor tyd en in samewerking met die kerk en die ouers van die skool, word daar stelselmatig in die behoefte aan landbou-onderrig voorsien en speel HMO ‘n leidende rol in die vestiging van praktiese landbou as vak in Suid-Afrika
In 1950 tree mnr Oosthuizen af na ‘n dienstydperk van 30 jaar en as afskeidsgeskenk vir sy fienominale werk, nie net op onderwysgebied en met die kinders nie, maar in die gemeenskap as geheel, word die skool – as ‘n blyk van waardering – na hom vernoem.
HMO is vandag nog trots om met hierdie fienominale man geassosieer te word. Verskeie van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders asook ander familielede het hul hoërskoolloopbane aan HMO voltooi.
Ons eer sy gedagtenis.