Hoërskool Nelspruit SA Skole-atletiekbyeenkoms uitslae
ADVERTISEMENT
Tweede medalje vir Tye Habib by ‘n nasionale byeenkoms! Die jaarlikse SA Skole-atletiekbyeenkoms wat op 3 en 4 April te Germiston plaasgevind het, was in verskeie opsigte ‘n anti-klimaks, na ASA se nasionale Junior en Jeug byeenkoms, die vorige naweek in Pietermaritzburg (KZN). Etlike skole, veral uit Noord-Gauteng (ons land se sterkste atletiek-provinsie), stuur nie eens meer ‘n span na SA Skole nie, en talryke onttrekkings was aan die orde van die dag.
Hoe dit ookal sy, NHS se groepie wat wel by die Germiston-byeenkoms was, kon na ‘n hele paar baie goeie vertonings en selfs ‘n pb (persoonlike beste) of drie, tevrede huiswaarts keer. Die naam van Tye Habib moet beslis genoem word! Tye het, na sy silwermedalje in driesprong s.16 by die ASA-kampioenskappe (12,67m) weer eens uitstekende rekenskap van homself gegee, deur hierdie keer ‘n bronsmedalje (12,43m) te verower. Twee medaljes, een elk by beide die nasionale byeenkomste, is waarlik ‘n baie goeie vertoning!

SA Skole Atletiek
Nog ‘n atleet wat rede het om breed te glimlag, is Anele Mkhonto. Hy is vanjaar nog in die ouderdomsgroep s.16, en moes telkens teen ouer teenstanders sy slag wys. In KZN was hy vyfde in die finaal vir die 800m seuns 18 (1:55.46), en al kon hy in Germiston net ‘n 7e plek (s.17) loshardloop, het hy ‘n volle sekonde op sy beste tyd verbeter. Sy 1:54.40 verbeter die bekende Gronighan Grobler se 2013-rekord van 1:55.44 – die eerste keer dus dat ‘n onder 16-seun van NHS, die 800m in onder 1:55 kon voltooi. Baie geluk!
David Botha (spiesgooi s.17) het sy allerbeste gegee, maar kon net-net nie daarin slaag om die 700g-spies verder as 60m te laat grondvat nie. Hy eindig algeheel vyfde, met ‘n mooi afstand van 59,83m. Angelica Graham (m.19) het haar ook uitstekend van haar taak gekwyt, deur die eindronde van die 200m te haal, en ‘n pb van 25.73 sek. (830 ASA-punte) aan te teken. Ook Zané Nel (m.15) se 876 punte in gewigstoot (12,82m) was waarlik ‘n ‘vegtersbeurt’, te midde van baie sterk mededinging. Baie dankie aan al die atlete en hul afrigters, wat vanjaar vir pragtige prestasies en blink vertonings gesorg het. Hoërskool Nelspruit is supertrots op elkeen van julle.