Laerskool Kragbron groet `n legende
Vir 42 jaar was Laerskool Kragbron me. Chrisna Liebenberg se tuiste. Saam met die groen gras, geboue, leerders en onderwysers het sy gedurende haar vier dekades gegroei en duisende leerders se lewens aangeraak.
Wat juffrou Chrisna se tyd hier by ons selfs meer besonders maak, is dat baie van die huidige leerders se ouers ook deur haar hande is. Na al haar jare in die onderwys, is sy ʼn wandelende bron van kennis en haar aftrede laat ongetwyfeld ʼn groot leemte.
Juffrou Chrisna se innerlike krag, sterk persoonlikheid en die feit dat sy haar altyd moeiteloos en met grasie in enige situasie laat geld het sal ons koester en by bly. Laerskool Kragbron se beste wense en gebede vergesel u op die lewenspad vorentoe. Mag ons Liewe Vader u ryklik seën met goeie gesondheid en baie vreugde en vrede tydens u aftrede.