Hoërskool Volksrust hokkie vs Standerton
Hoërskool Volksrust se eerste seunshokkiespan te staan gekom teen Standerton in hul vyfde skoleligawedstryd van die 2022-seisoen. Vir VHS het die kaptein, Bernhard Viljoen, in die negende minuut die span se eerste doel aangeteken gevolg met sy tweede slegs ses minute later. Standerton het verbete teruggeveg in die tweede kwart en het daarin geslaag om ook een van hul aanvalle te verdoel. Volkies het in die derde kwart op dié poging geantwoord deur hul derde doel van die kragmeting aan te teken, hierdie keer deur die slim spel van Siyakholwa Tokwane. SHS het in die laaste kwart teruggeveg en hul tweede doel van die wedstryd aangeteken. Na 60 minute se aanskoulike hokkie moes Standerton egter die knie buig voor VHS se volgehoue druk. Vir sy verbete verdediging is Duwan van Niekerk aangewys as speler van die wedstryd. Van harte geluk aan die spelers en hul afrigter met hul goeie vertoning.
Op 5 Mei het Volksrust se hokkiespanne vertrek na Standerton vir hul eerste liga wedstryde van die seisoen. Belowende hokkie is gespeel en die kompetisie was sterk, maar so was ons dogters ook. Die uitslae getuig van harde werk wat werklik beloon is.
Juffrou Marika Rossouw se o/15 span verloor in ʼn naelbyt wedstryd 3-2. Kaitlyn van der Merwe speel uitstekende hokkie en word aangewys as speler van die wedstryd. Die o/16 span van me. Nicolette Strydom speel “harde” hokkie tot op die einde, maar Standerton was net te sterk. Hulle verloor 2-1. Baie geluk aan Gené Meyer wat aangewys word as speler van die wedstryd. Volksrust se 2de span, afgerig deur Juffrou Carien Uys, speel aanskoulike hokkie, maar moes ongelukkig die knie buig teen Standerton en verloor met 1 doel teenoor 0. Mbali Kubeka se goeie verdediging maak dat sy aangewys word as speler van die wedstryd.
Die “babas” van die skool. Juffrou Zuzané van der Merwe se o/14 span, kwyt hulle uitstekend van hul taak en wen met ʼn telling van 4-1. Mmelokuhle Hlakutse word gekies as speler van die wedstryd. Juffrou Carli Ernst se 1ste span wys ons hoe dit gedoen word en wen met ʼn telling van 1-0. Leah Müller word daar gekies as speler van die wedstryd. Geluk aan al die dogters en hul afrigters. Sterkte met die volgende wedstryd wat 14 Mei teen Kanonkop Hoërskool in Volksrust sal plaasvind.