Hoërskool Ermelo oesbepalings en kunsmisproewe vir maksimum wins
Hoërskool Ermelo oesbepalings en kunsmisproewe vir maksimum wins. Die Erries se graad 11-Landbouleerders van 2022 is betrokke by kunsmisproewe om optimale produksie vir maksimale wins te bewerkstellig. “In Suid-Afrika is daar tans R190 miljard skuld in landbou waarvan sowat 60% graanboere s’n is en gegewe die volhoubaarheid van voedselproduksie is dit krities belangrik dat elke kommoditeit gaan kyk na winsgewendheid – nie na maksimum opbrengs nie, maar maksimum wins.
Met dié waardestelling ingedagte het TLU SA se Adviesdiens met gronddeskundige dr. Gawie du Toit aan die spits in samewerking met Hoërskool Ermelo se Landbou-akademie kunsmisproewe gedoen en onlangs ’n oesskatting gedoen.” (tlu.co.za) Die landbouleerders van Hoërskool Ermelo doen praktiese ervaring op en van die praktiese aktiwiteite word geassesseer vir punte. Daar is 14 persele met verskillende NPK-behandelings.
Die oesproses wat vir die proef-oes gevolg is, is as volg:
- Daar is 11m van elke perseel met die hand geoes.
- Die geoeste koppe is ontblaar en getel.
- Die sakke met skoon koppe is geweeg en die massa is neergeskryf.
- Die koppe is “gedors”: Die pitte is met die hand afgemaak.
- Daarna is die pitte geweeg en die moontlike opbrengs van kg/ha en ton/ha bepaal.
- Die vog van elke perseel is by die graansilo bepaal en die finale berekening van
opbrengs is op ’n 12.5% vogbasis gedoen, wat die standaard vogbasis vir mielies is.
Die Erries was bevoorreg om die hoofbestuurder van TLU SA, Mnr Bennie van Zyl en ander bestuurslede van TLU betrokke te hê om die leerders leiding te gee. “Dit is maksimum wins wat die stabiliteit gee vir volhoubaarheid. Dit gaan nie daaroor om maksimum kunsmis te gee nie” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, gesê. Mnr. Van Zyl het bygevoeg: “Dit is belangrik om die leerders betrokke te hê en die oes sal eers werklik reg wees met die skoolvakansie. Na afloop van die ware stroop, sal die syfers bekend gemaak word. So sal boere kan sien wat is die beste benadering wat kunsmistoediening betref om maksimum wins te bereik.”
Hoërskool Ermelo bedank mnr. Gerrie Jansen van Rensburg vir die grond wat hy beskikbaar stel aan EHS en TLU om die proewe te kan doen. Die Erries se leerders is opgewonde om die finale oesbepalings te doen en die syfers te vergelyk.

Ince Letany en Zane du Plessis

Leo Luyt en Cobus Pretorius op die voorgrond

(vlnr): Mnr Pieter Grobler (EHS Hoof), mnr. Gerrie Jansen van Rensburg (BL-voorsitter), mnr. Bennie van Zyl (Hoofbestuur, TLU), die graad 11-groep EHS-Landbouleerders, mnr. Wannie Scribantie, dr. Gawie du Toit en mnr. Jannie Roux (almal deel van TLU-bestuur)