Hoërskool Ermelo-dogters bid saam vir Taiwan
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ermelo-dogters bid saam vir Taiwan. Op Woensdag 1 Maart het al die Errie-dogters en damespersoneel in EHS se ouditorium vergader ter deelname aan die jaarlikse Wêreldbiddag vir Vroue-program. Die amptelike biddag het eers op Vrydag 3 Maart plaasgevind, maar Woensdag het die Erries hul stemme by dié van duisende vroue van regoor die wêreld gevoeg om in te tree vir 2023 se gasheerland – Taiwan.
Luné Dorfling van die NG Moedergemeente asook ‘n paar Errie-matriekdogters (Yoliswa Ndlangamandla, Nqobile Zwane & Isabelle Moussier) het van die gebede en voorlesings behartig. Na afloop van ‘n lofprysingslied en ‘n bietjie agtergrondkennis oor die land, is die boodskap uit Efesiërs 1:15-23 gebring met die tema: ‘Ek het van julle geloof gehoor’. Twee denkbeeldige briewe is geskryf aan die Taiwannese Christenvroue om hul te laat weet dat ons ook in verre Suid-Afrika van hul geloof gehoor het. Dié briewe is deur Mienke Cloete en Zané du Plessis voorgelees waarna die Errie-dogters in kleingroepe verdeel het om te bid vir dié land en sy mense. Die gebedsbyeenkoms is afgesluit met ‘n vrywillige kollekte ten bate van die internasionale Wêreldbiddag vir Vroue-organisasie. Hoërskool Ermelo se dogters en damespersoneel dank ons Hemelse Vader vir die voorreg om te kon deel in dié jaarlikse biddag. Mag die woorde van 1 Tess. 5:17 ons immer herinner: “Bid gedurig.”

Wêreldbiddag vir vroue

Wêreldbiddag vir vroue