Merensky Landbou Akademie rugby vs HTS Tom Naudé
ADVERTISEMENT
Blink dag vir plasierugby teen Tommies. Op 22 April het al die Plasie-rugbyspanne opgedraf vir vriendskaplike wedstryde teen die spanne van HTS Tom Naudé. Plasiepark het vroegdag begin lewe toe die o.14-kalfies die dou van die veld af gespeel het in hul eerste tuiswedstryd vir Merensky Landbou Akademie. Die nat bal het die mannetjies aanvanklik laat sukkel, maar in die tweede helfte het die senuwees bedaar en wen hulle oortuigend met 40-0. Die o.14B-span het verseker dat daar nie slap gelê word nie, en ook geseëvier met 45-5.

Byron Hendricks

Byron Hendricks

Byron Hendricks

Caleb Mokgalaotse

Dirk de Nysschen
Die Tommies se o.15A-span het daarna die bordjies verhang en van die veld gestap met ‘n 15-5 telling in hul guns. Die o.15B’s van Plasieland het die bordjies omgedraai en stuur hul opponente kous oor die kop terug met ‘n 33-0 oorwinning. Albei skole se 2de-spanne het vir ‘n klipharde wedstryd gesorg. Na ‘n puik drie deur die Ratels se vleuel, Hlulani Baloyi, het die Plasies glimlaggend met ‘n welverdiende 10-3 van die veld gestap.
Die o.16-spanne van Merensky Landbou Akademie het ook gesorg vir aanskoulike hardlooprugby. Die B-span wen met ‘n telling van 24-5. In die voorwedstryd laat die A-span die harte bons met ‘n 38-8 oorwinning. Plasieland se 1ste 15 het beslis die blou bloed verder laat klop. Die eerste punte was aangeteken deur die buitesenter, Klokke Mohlala, en verdoel deur Byron Hendricks. Daarna het Mahlatse Semosa, na ‘n puik steekskoppie, ‘n drie gedruk wat die tuisspan die voortou laat neem het met 12-0. Die Tommies het moedig teruggeveg en twee drie gedruk om die halftydtelling 14-12 in hul guns te maak.

Dirk de Nysschen

Hardus Terblanche

Klokke Mohlala
Dit was seker die plaas se water wat die koppe reg gedokter het, want die blou golf het in die tweede helfte behoorlik gerol. Binnesenter Ulrich Maré, het die eerste drie gedruk na ‘n puik aangee deur Hendricks, wat dan ook die drie verdoel het. Dirk de Nysschen, skrumskakel, het na ‘n vinnige tikskoppie ‘n drie gedruk wat ook verdoel is deur Hendricks, om die telling na 26-14 te neem. Hendricks se skopskoen was ingestel en hy stuur ‘n strafskop ook daarna deur die pale. Waldie Haasbroek soek ook die doellyn op, met nog ‘n verdoeling deur Hendricks. Met die telling op 36-14 het die Tommies alles in die stryd gewerp om die telling na 36-19 op te stoot. Flank, Hardus Terblanche, het vir oulaas agter die doellyn gaan kuier, en met nog twee punte deur Hendricks se skopskoen het die telbord ‘n eindtelling van 43-19 gereflekteer. Knap gedaan aan Hendricks wat 13 punte bygedra het. Die volgende vriendskaplike wedstryd is teen Hoërskool Frans du Toit op 6 Mei in Phalaborwa.

Mahlatse Semosa

Mahlatse Semosa

Tian Viljoen-Krügel (links) en Ethan Maritz (regs)
FOTO’S GENEEM DEUR: GKT Sporst Pics (NASHUA)