Hoërskool Ben Viljoen vier 75ste verjaarsdag
ADVERTISEMENT
“Die stroompie uit ‘n verre tyd het berg- en hoogland oopgesplyt”
Klein en beskeie inderdaad was die begin in 1947 as ‘n Junior Hoërskool aan die oewers van die Olifantsrivier. Soos die opgegaarde waters in Loskopdam egter die belofte van vrug op arbeid inhou, so het die nuwe skool mooi dinge beloof vir hulle wat hier gearbei het.
“Die droom het hier ‘n daad geword wat sterk oor wale n sluise stort”
Die leerlingtal het geleidelik gestyg en die aantal matrikulante gelewer het merkwaardig vermeerder van 4 in 1950 tot al oor die honderdmerk.
Hoërskool Ben Viljoen het na 75 jaar sy plek volwaardig ingeneem in die ry van hoërskole, ‘n naam om mee rekening te hou, ‘n faktor om in ag te neem.
Sonder golwe was die groei nie moontlik nie, inteendeel al die groeipyne was daar. Daar was hoogtepunte van suksesse, maar ook die dieptes van teleurstellings.
Groei, verandering, verbetering laat hulle nie keer nie, want “ploeg dieper los, bind groot die gerf.”
75 jaar gelede op 21 Februarie 1947 het die skool sy deure oop gemaak as ‘n junior hoërskool met slegs agt personeellede en 185 leerders!
Vyf-en-Sewentig jaar se trots, prestasies en dankbaarheid. Ons vier die suksesverhale van mense se moeitevolle arbeid, sowel as hulle tyd en geld wat hulle belê het in ‘n opvoedkundige instansie wat ‘n baken geword het in Limpopo. Terwyl ons die geskiedenis van die skool vier, is ons ewe opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê.
“Onbeduidend klein was jou begin…
en tog was jy die klip in water wat nog
in steeds wyer deinende kring
golwe van lig en kennis bring
na hierdie dal se berg en wilde bos.
Jy is die sluis wat ‘n deel laat los
van wysheid van beskawing, fyn sproei,
want uit die droom het ‘n daad gegroei.
Die kinders kom, in groen en grys geklee,
om steeds aan jou lewe te gee in ruil vir wat jy leer..” – M Bosman, circa 1972. (oud-leerder en 2003 se Ingrid Jonker-pryswenner met haar digbundel “Landelik”)

Mnr John Smith (Skoolhoof)

Mnr John Smith, Mnr Tiaan Smit (AR Voog), Me Adele Smith (AR Voog) saam met die Ambassadeursraad