Voorreg val Die Hoërskool Menlopark-krieket te beurt
ADVERTISEMENT
In die lied, Kringe om die maan, beskryf Coenie de Villiers die prag van die randjiesveld se blou. Menlo se krieketspelers het ʼn blou skynsel van ʼn ander aard aan die randjiesveld verleen toe hulle hulle slag teen die Oppenheimer XI-tal op Randjiesfontein gewys het. Nes ʼn arend in die bekende lied om sy niksvermoedende prooi wen-tel, het die Menlo-spelers die opponente omsingel en die paaltjies met puik kolf- en boulwerk laat kantel.
ʼn Uitnodiging om teen die Oppenheimer XI-tal op die veld te stap, is skaarser as ʼn reënbui in die Karoo, aangesien die eer slegs een skool per jaar te beurt val en dit is daarom absolut noodsaaklik om die kans te benut… en dit is presies wat Menlopark gedoen het. Baie geluk aan Menlo se eerstespan wat hierdie geleentheid met albei hande aange-gryp het en die opponente met puik spel beïndruk het.
Hierdie goeie nuus is slegs die punt van die ysberg, want die skool het verder verneem dat Menlo se naam boaan die Finsbury-ranglys staan. Agter Menlo-krieket staan reeds name soos Heinrich Klaasen, Rassie van der Dussen en Suné Luus. Ons kan nie wag om te sien watter van hierdie krieketmanne se name een van die dae ook in groen en goud sal pryk.