Hoërskool Garsfontein hou Valentynsbal
Die horlosie het vir Hoërskool Garsfontein se Valentynsbal twaalfuur geslaan; die langverwagte aand het aangebreek.
Casa Social da Madeira se saal is in die Alice in Wonderland-sprokie omskep. Die rooi tapyt het die gaste na die ingang gelei, waar daar twee kaartsoldate waggehou het. ‘n Verwelkomingsystee is deur graad 8-kelners bedien.
Die voorportaal het ‘n sprokieswoud ten toon gestel. Dit is met dobbelstene, horlosies, hartjies, sampioene en plante versier. Die twee deure wat na die dansvloer oopmaak, is met 2 takboë afgerond. Die fotohokkie na die linkerkant het die aand se herinneringe in ewigheid vasgelê. Die tafelversierings, wat deur die Garsieraad en die VGR geskep is, het almal se verbeelding rakende die Alice in Wonderland-fantasie aangegryp.
Nie net het die Garsie-here sjarmant gelyk nie, maar die dames het die asems weggeslaan met hulle elegante uitrustings. Die tyd het stil gestaan toe die Garsieraad die vloer met n gechoreografeerde dans geopen het.
‘n Hoofgereg van hoenderborsies, kapokaartappels, spinasie, wortels en pampoen het aan die leerders die nodige energie verskaf om tot middernag stof op te skop. Die hoogs suksesvolle aand is met n verruklike Crème Brûlée afgeluit.
Die volgende dag kon die Garsies nie uitgepraat raak oor hoe hulle die Valentynsbal geniet het nie; volgende jaar sit ons hierdie tradisie voort.