[Onderhoud] Zwartkop- Eerstespan Netbalkaptein – Ané van Jaarsveld
ADVERTISEMENT
AWSUM het die geleentheid gehad om met Ané van Jaarsveld Eerstespan Netbal kaptein van Zwartkop te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..

Ané van Jaarsveld
Hoe het die span hulle vir die seisoen voorberei en op watter aspekte van die spel het julle gefokus? Ons span het seker gemaak dat ons fiksheid op die nodige standaard is. Tydens die voorseisoen
het ons ook gefokus op mobiliteit en daarop dat ons liggame sterk genoeg is om beserings te vermy. In ons spel fokus ons op beide verdediging en aanval om ’n goeie balans te handhaaf.
Wat dink jy maak julle span hierdie jaar mededingend? Die feit dat ons span ’n sterk konneksie het, op
en af van die baan af. Ons is op ’n ander vlak, en dit gee ons reeds ’n voorsprong. Ek glo ons kan baie bereik, aangesien ons geestelik sterk is en mekaar voortdurend opbou.
Wat beteken dit vir jou om jou skool as ’n eerstespan-speler te verteenwoordig? Dit is vir my ’n groot eer om saam met die span op die baan te draf en die skool se waardes van respek en integriteit in ons spel uit te leef. Dit is nie net ’n voorreg om deel van die eerstespan te wees nie, maar ook om saam met ’n merkwaardige groep jong dames ’n spel te speel wat ons opreg geniet.
Watter doelwitte het julle span vir die komende seisoen gestel? Om saam as een span te groei en die beginsels wat ons leer, toe te pas sodat dit ons later tot groter sukses sal lei.
Watter span of toernooi beskou jy as julle grootste uitdaging hierdie seisoen? Vir jare is die Classic Clash ’n hoogtepunt in Centurion waar ons teen ons buurskool, Hoërskool Eldoraigne, meeding. Dis ’n spesiale
geleentheid waar ons skool as een saamstaan om ons sportspanne te ondersteun. Al speel ons ook ander belangrike wedstryde, bly die Classic Clash die een waarna almal uitsien.
Watter netbalster of sportpersoonlikheid bewonder jy en hoekom juis hy of sy? Ané Retief, hoofverdediger van die Suid-Afrikaanse span. Ek dink nie net dat sy ’n fantastiese speler is nie, maar haar manier van speel is ’n toonbeeld van die tipe persoon wat sy is en die waardes wat sy uitleef.