Hoërskool Zwartkop leerder dra Mej Junior SA kroon
NICOLA KNOETZE DRA MEJ JUNIOR SUID-AFRIKA KROON
Nicola Knoetze, ‘n leerder van Hoërskool Zwartkop, het ten spyte van die al die uitdagings wat 2020 bied, die titel as Mej. Junior Suid-Afrika verower.

Nicola Knoetze
Nicola doen al modelwerk vandat sy 6 jaar oud is en het gedurende die laaste 5 jaar, soveel as 8 titels verower. Daarom het sy as 17 jarige die uitdaging aangegryp om aan Mej Junior SA deel te neem.
Haar pad na hierdie titel het aan die einde van 2019 begin toe sy as finalis aangewys is. Die kompetisie sou oorspronklik in Maart vanjaar plaasgevind het, maar is weens die inperking uitgestel. Die jaarlikse Mej. Junior SA is op Sondag 23 Augustus as ’n digitale kompetisie aangebied. Die deelnemers moes foto’s en video’s instuur van hul uitrustings en het deur middel van die applikasie Zoom ‘n onderhoud met die beoordelaars gehad.
Die wenners is aangewys deur middel van ’n lewendige uitsending vanaf die Pageants SA Facebookblad.
Nicola is aangewys as die model met die beste loopplank roetine, die beste onderhoud asook die finalis met die beste onderhoud drag.
Flippie Snyman, ’n fotograaf van Centurion, het haar foto’s en video’s vir die beoordeling geneem. Haar aandrok vir die kompetisie is deur Heinrich Greyling Couture geborg.
As titelhouer wil Nicola Tekkie Tax bevorder en ander liefdadigheidsorganisasies in Centurion ondersteun, om sodoende ‘n verskil in die gemeenskap te maak.