Hoërskool Zwartkop kondig Mnr en Mej vir 2021 aan
Dit was ’n aand van behoorlike glitz en glam waar almal weggevoer is na ’n oomblik in tyd. ’n Hunkering na dit wat was. ’n Oomblik van nostalgie.
Op Woensdag, 20 Oktober het maande se beplanning en oefening bymekaar gekom op die Hoërskool Zwartkop verhoog in ’n skouspel van kleure, danspassies, aandrokke en pakke.
Tydens hierdie spoggeleentheid is Marco de Bie as 2de Prinses en Mnr Fotogenies aangewys terwyl Kira Swanson as die 2de Prinses bekroon is. Jaden Scholtz het nie net met die 1ste Prins titel weggestap nie maar is ook aangewys as Mnr Persoonlikheid en Debutant van die jaar. Anja Reyneke dra die 1ste Prinses kroon saam met die titel van Mej Fotogenies.
Carla Hugo stap as Mej Persoonlikheid weg, terwyl Tiaan Frylinck as Mnr Galant en Shana van Heerden is as Mej Finesse aangewys is.
Dit was egter CJ Oberholzer en Minet Coetzee wat die beoordelaars se harte en punte gewen het en is as die spiksplinternuwe Mnr en Mej Zwarrie van 2021 gekroon.
Die belangrikste kenmerk van ’n Mnr en Mej Zwarrie finalis is nie skoonheid nie, maar ’n omgee-hart wat uitreik na behoeftiges in ons gemeenskap. Die liefde en omgee vir ander was tasbaar onder vanjaar groep finaliste en Hoërskool Zwartkop is trots op ieder en elkeen.
Aan elke onderwyser en ouer sê ons ook dankie vir hul harde werk, ondersteuning en opofferings gedurende hierdie reis. Ons sien uit om te sien wat hierdie groep leerders gaan vermag in hul ampstermyn.

Voor van links na regs: Kira Swanson (2de Prinses), Anja Reyneke (1ste Prinses & Mej Fotogenies), Minet Coetzee (Mej Zwarrie 2021), CJ Oberholzer (Mnr Zwarrie 2021), Jaden Scholtz (1ste Prins, Mnr Persoonlik en Debutant), Marco de Bie (2de Prins & Mnr Fotogenies).
Agter van links na regs: Shana van Heerden (Mej Finesse), Carla Hugo (Mej Persoonlikheid) en Tiaan Frylinck (Mnr Galant).