Hoërskool Centurion se Robotika presteer
Hoërskool Centurion het onlangs ‘n nuwe buitemuurse aktiwiteit by die skool begin – Robotika. Die skool het in September by Afrimat vier EV3-robotte as ‘n borg ontvang en het dadelik aan die werk gespring en die Robotika- spanne gestig. Die spanne het ‘n interne kompetisie gehou waarby Afrimat betrokke was vir die pryse van die wenspan. Hierdie interne kompetisie was vir die leerders en hul afrigters net die begin. Hulle het dadelik begin voorberei vir die volgende kompetisie wat voorgelê het: FIRST® LEGO® League op 2 November 2019 by Sci-Bono.
By robotika-kompetisies moet spanne van leerders ‘n robot ontwerp en bou wat teen ‘n reeks spesifieke uitdagings teen teenstanders kan meeding. Die FLL het elke jaar ʼn ander tema waarop die kompetisiereëls gebaseer is. Die FLL Robotika word uit drie komponente saamgestel:
- Robot ontwerp, bou en programmeer om take op die dag van die kompetisie te voltooi.
- Navorsing en oplossings vir die projek uit te beeld op die dag van die kompetisie. Daar word van leerders verwag om met kenners te praat, op opvoedkundige uitstappies te gaan en dan hul projek mondelings en op ‘n plakkaat uit te beeld. Hierdie jaar se tema is “City Shaper”.
- LEGO® CORE VALUES® mondelings en op ʼn plakkaat uit te beeld.
Hoërskool Centurion het twee spanne ingeskryf: Arcimedes en Amaranth waarvan beide puik prestasies opgelewer het. Amaranth wen die beste projek-idee en -aanbieding en word ook gekies om by die Nasionale Kampioenskappe op 7 Desember 2019 te gaan deelneem. Die leerders wat in Amaranth was, is soos volg: Lené Fourie, Annabelle Rademan, Geandré du Preez, MJ Erasmus, Jeanreë Jordaan, Anke Amsenga, Justin Coetzee, Carl Brandt, mnr. Marco Coetzee as hulpafrigter en mnr. André van Mazyk as hoofafrigter.
Hierdie is ‘n ongelooflike prestasie vir ‘n sportsoort wat onlangs by die skool begin het. Baie geluk aan die leerders en die afrigters.