Op die AWSUM rusbank met Hoërskool Driehoek se hoofseun vir 2022
ADVERTISEMENT
Op die AWSUM rusbank met Hoërskool Driehoek se hoofseun: Kelson Bridges
Baie geluk met jou verkiesing as hoofleier by jou skool. Waarna sien jy die meeste uit tydens jou tydperk as leier by jou skool? Ek is opgewonde om saam met die matriekraad te werk om dinge te laat gebeur en lekker te laat gebeur. Ek is net so opgewonde om die leerders in Driehoek beter te leer ken met die aktiwiteite wat ons gaan doen. 1000 kinders is baie, en ek ken seker net so ongeveer 214!
Wat sou jy sê is jou sterk- en swakpunte?
My sterkpunte:
– Ek is baie sosiaal en hou daarvan om in spanne te werk
– Ek is ‘n bok vir sport en probeer om so veel as moontlik orals betrokke te wees
– Ek hou baie van praat
– Ek is mal daaroor om planne te maak en dinge te reël, alhoewel…
My swakpunte:
– Ek is baie sleg met vooruit beplan
– Ek hou baie van praat
– Ek het baie swak tydsbestuur en los dikwels dinge tot op die laaste minuut
Is daar enige iets wat jy graag sou verander by jou skool? Ek wil graag meer verantwoordelikhede aan die graad 8 tot 11 VLR’e toevertrou. Hulle is ook leiers en staan ‘n kans om eendag deel van die matriekraad te wees. As ons hulle nou al betrokke kry kan hulle goeie opleiding kry om die skool verder te lei na ons ekspedisie in die grootmenswêreld in.
Wat geniet jy die meeste van jou skool? Die mense. Hoekies het almal iets in gemeen: saghartigheid en humor. As jy ‘n af dag het, sal jy iewers iemand kry wat of jou probleme sal verstaan of jou maak lag. Meeste van die tyd albei! Hoërskool Driehoek is ‘n skool so vasgergrond op Christelike waardes, dat mens kan dit sien in die hoekies en die onderwysers wat daardie Christenskap uitleef. My gunsteling deel van Driehoek is dat ek trots kan wees op Driehoek.
Matriek is jou laaste jaar- van ‘n akademiese oogpunt, wat sal jy graag wil bereik? Ek mik om die titel van Dux-leerling te verwerf, alhoewel dit ‘n baie groot mylpunt is en baie bas-op-stoel ure van my af gaan verwerf.
Enige boodskap van aanmoediging vir jou mede-leiers? Die begin van die beste einde is nou hier, en ons as matriekraad sit agter die stuurwiel. Ek is trots op die gekose span en ek kan nie wag om saam met julle 2022 dié jaar te maak om in Driehoek te wees nie!
Wie is jou rolmodel? My rolmodel is Dory van Finding Nemo. Sy inspireer my om ‘n beter vis te wees (ek sukkel nog so bietjie) en sy het ‘n baie belangrike filosofie wat ons almal in ons lewens kan toepas: “Just keep swimming.” Lewe word soms moeilik en oorweldigend, maar as jy gaan ophou swem, gaan jy verdrink onder die wêreld se probleme.
Wat is jou planne vir na skool? Ek beplan om elektroniese ingenieurswese in Suid-Afrika te swot, en dan oorsee te emigreer waar ek my eie berg kan besit. Ek en my twee boerbokke sal die enigstes wees wat op die berg bly.
As jy ‘n super-hero kon wees, wie sou dit wees en waarom? Ek wou Iron Man wou wees. Nie vir die uitspattige staalpakke of wapens nie, maar vir die geld. Tony Stark is ‘n biljoenêr. Ek kan al daardie geld vat om my eie berg te koop vir my en my twee boerbokke. Hulle twee mag maar met die staalpakke speel.
Op ‘n normale Saterdag sal julle my… óf op die rivier saam met my vriend Zander kry, of op een of ander lawwe avontuur saam Leila, Anouk en Pieter, of besig om met die hoofmeisie (Kara) te stry dat The Office beter as Big Bang Theory is.
Wie is jou ‘celeb crush’? Ek en Taylor Swift gaan eendag trou. Baie min mense weet dit, maar amper al haar liedjies gaan oor my. Behalwe All Too Well, natuurlik. Ek sal nooit Taylor Swift se hart breek nie.