Hoërskool Framesby oudleerder gesels oor haar dae op en na hoërskool
Mieke Janse van Rensburg gesels: Hoe vang jy vyf jaar se herinneringe vas in woorde? Hoe beskryf jy bande en lewenslesse wat vandag nog jou lewe vorm? Hoe bewys jy dank aan daardie spesiale mense wat jou skoolloopbaan ingekleur het met opwinding, entoesiasme en geliefde herinneringe? Ek het nie antwoorde op hierdie vrae nie, maar ek kan getuig dat my blou-baadjie trots in my ingeweef is. Kyk, Framesby was nog altyd vir my ‘n familie-gedoente. Daardie gange was, en is, gevul met familiegeskiedenis, waar vele herinneringe gemaak is. Dit maak daardie eerste graad 8-dae nog meer uitdagend. Bowen dit, het ek daar ingestap met groot skoene om te vul: my ma se foto hang in die saal se voorportaal vir haar doktorsgraad in rekenaarwetenskap.
Ek noem ‘n voormalige hoofseun, boeta (Coenrad Barnard) en ‘n beeldskone, en bitter populêre graad-10 leerling, sussa (Ané Roodt neé Barnard). Boonop is meeste van Ané se vriende op die Monitorbestuur in my graad 8 jaar. Kom ons sê net dat ek bitter gou agtergekom het dit is moeilik om weg te kruip in ‘n see van graad 8’s, plus my rooi hare het definitief my vininger herkenbaar gemaak tussen al die gesigte. Gelukkig het ek morele ondersteuning gehad, want my niggie, Eoné Biggs (neé Strauss), het hierdie graad-8 uitdaging saam met my aangepak. Soos ek sê, Framesby is ‘n familiegedoente! Maar toutjie-kou, gras groen inkleur, vroutjie-blare soektogte, spookhuis en slakke-resies het ek oorleef (dalk sonder my selfrespek of ego, maar ek het dit gemaak.) Die volgende vyf jaar het soos ‘n “rollercoaster” verby gegaan, vinnig met baie ‘op’ en ‘af’ uitdagings. Meer ‘op’ as ‘af’. Die enigste ‘af’ wat ek werklik onthou, is maar eksamenbekommernisse, Skeinat, die druk om artikels betyds klaar te skryf vir die Forum-publikasies, spanning om kos voor te sit vir juffrou Schelbert (netnou maak ek haar siek!) en Juffrou Jordaan se legadariese “ek hou nie van graad-8’s”-toespraak (wat ons almal laat bewe het in ons nuwe oor-groot “chappy-wrapper”-baadjies, maar gou het sy in ons harte ingekruip en diep spore in ons lewens geloop). Maar as mens so terug dink, is dit wonderlik hoe mens die minder aangename goed vergeet, en die fantastiese humoristies herinneringe koester.
Ek onthou hoe juffrou Jordaan die Kritte belowe sy sal in ‘n bikini skool toe kom as ons wen (wag nou nog daarvoor juffrou!). Die naelkouende sportwedstryde, waar ek geleer het hoe rugby régtig werk. CSV-sielverrykende kringsessies. Sal ook nooit vergeet toe iemand in ons graadgroep, ‘n dringende afkondiging ingesit het dat Johnny Scanlen klas bank en by die kantoor moet rapporteer, maar daar was geen Johnny Scanlen in ons graad nie. Of meneer Saunders se “sweety-days”, want wie sê ooit nee vir ‘n Wilson toffie? Meneer Breedt se eindelose geduld in IGO. Die pienk-vingers na die gewilde snoepie tamatiesous “slap-chips” tydens pouse. My koue
sweetpalms agter die verhooggordyne voor ‘n Fruk optrede. Die diep gesprekke en besprekings in redenaars. Dan ook tydens ‘n Verbruikerstudiesklas toe Rean Clasen uitgejaag is oor hy lag in die klas terwyl ons eetversteurings bespreek, net om uit te vind hy lag vir sy eie poep in die klas (bespiegel nogsteeds of dit die regte rede was!).
Die stem-konkoksie wat gedeel was voor die Grease-revue (dink daar was beslis Whiskey in daai mengsel). Die oorvol bussie op pad Kaap toe vir die Stad Kaapstad Tienertoneel-finaal en hoe juffrou Jordaan ten koste van my aan ‘n groep deelnemers van verskeie skole ongeërg noem dat ek dink ‘n ander deelnemer is hot. Ek het gebid dat die aarde my sal insluk, maar die aarde wou nie sluk nie. Rockspaaider en MK-Skole-Top-10. Alhoewel my herninnering meer aan die kultuurkant staan (ek is nie baie handig in die sportafdeling nie; glo vas dat as die jongste, het my broer en suster al die sportgene opgebruik), was daar nie ‘n sportgeleentheid wat ek gemis het nie, want Framesby-pawiljoen gees is onvergelykbaar. Die hoërskool, vir my, was oor daardie vriendskappe en herinneringe, daardie betrokkenheid by buitemuurs en klubs. Dit was wat daardie vyf jaar so spesiaal gemaak het: Fruk, Forum,
redenaars, dansklub, die samesyn wat daar gedeel was.
Dit is tussen daardie banke wat ek my liefde vir Ingrid Jonker, Annelie Botes en Daleen Matthee gevind het, waar ek geleer het
skoolvriende kan lewenslange vriende word, kan familie wat nie bloed is nie word. My liefde vir toneel is ook ontgin hier, en kon ek die Oos-Kaap verteenwoordig by die Stad Kaapstad Toneelspelkompetitsie. As hoofmeisie het ek ook vinnig geleer om op my voete te dink en besef dat ons moet nie net vir ons self praat nie, maar vir ander ook. Dat dit ons verantwoordelikheid is om wyer as net vir onsself te dink en leef, want “He ain’t heavy he is my brother”. Na ek my suster vroeër hierdie jaar aan kanker verloor het, het Framesby vir my nog meer nostalgies geword, met net 18 maande ouderdomsverskil, het ons soveel herninneringe by Framesby gemaak, waar ons
saam kon grootword op ‘n ander manier. Waar ons mekaar ook as vriendinne gevind het en nie net as susters nie.
Na skool het ek my droom om modeontwerp te gaan studeer, nagevolg. Ek het tydens my studies die voorreg gehad om uitgenooi te word om my ontwerpe by die Internasionale Bokhaar Beraad te vertoon. In 2017, voltooi ek my Meestersgraad in mode, waar ek ‘n toekenning ontvang het vir die beste meestersgraad in die Fakulteit van Sosiale- en Geesteswetenskappe. Boonop is 2017 nie besig genoeg met studies nie, dus besluit ek ook om trou te beloof aan my wonderlike man, Arno. Alhoewel ek gedroom het om my ontwerpe op die loopplank te sien, het die lewe ‘n ander kringloop vir my ingehou, want ek het ‘n passie vir navorsing ontwikkel. Daarom bevind ek myself tans as ‘n lektor by Nelson Mandela Universiteit in die department van visuele kuns. Tog bevredig ek my kreatiwiteit nogsteeds deur navorsing en uitstallings via NMU. Ek hoop ook om nog verder te studeer, want ons is almal tog lewenslange leerders.
Ek het nog nie kinders nie, maar is die trotse tannie van ses kindertjies wat my op my tone hou, fiks maak en vir wie ek alles sal doen!
Hoërskool Framesby, al het die skool nie toe kuns aangebied nie, het my lewenslesse en werksetiek geleer wat my deur my studies gedra het én nogsteeds dra. Dus wil ek van hierdie geleentheid gebruik maak om dankie sê aan elke onderwyser en onderwyseres wat help om sulke kosbare herinneringe te vorm, al het jy na my jare by die Framesby-familie aangesluit. Dankie vir elke laataand merksessie, ure se voorbereiding, ekstra klasse en notas, na-ure opofferings om buitemuurse aktiwiteite af te rig, naweke en vakansies wat ingespan word vir kampe en toere. Dankie vir julle ondersteuning, liefde, omgee en pad wat julle met elke skolier stap. Julle maak ‘n impak op soveel lewens. Aan huidige skoliere wil ek net die volgende noem: ek kan nie presies onthou of dit by ‘n toneel, of CSV byeenkoms was nie, maar daar was ‘n spreker wat die volgende gesê het: staan elke dag op en sê vandag sal ek die beste ek wees wat ek kan wees.
Vandag sal ek, Mieke, die beste Mieke wees wat Mieke kan wees. Begin elke dag met daardie houding, want God belowe in Filipense 4:13 dat Hy jou die krag sal gee, en in Jeremia 29:11 beloof Hy vir jou ‘n toekoms, ‘n verwagting! Jy sal hierdie geskenk net kan ontvang as jy alle geleenthede voluit benut deur die beste jy te wees, wat net jy kan wees. Dan ook ‘n spesiale dankie aan die 2010-matriekgroep; wat ‘n voorreg om die herinneringe met julle te kon deel! Ons was die sokkerwêreldbeker groep, een van ‘n soort, waar Waka-Waka ons temalied geword het. Ons was so ietwat met Covid gepootjie met ons 10 jaar reünie, maar weet verseker ons sal goed opmaak daarvoor, hoe klink ‘n 15 jaar reünie? Dit was ‘n voorreg om deel van die 2010-matriekgroep te wees, want Framesby is ‘n skool waar God sentraal staan, akademie uitblink, kultuur gekoester word en sport aksie verskaf. Voorwaar ‘n skool waar potensiaal verwesenlik word. Daarom sal ek altyd my blou-baadjie trots hê en in die woorde van Meneer Lombaard, trots wees om ‘n Framesby te IS!