Hoërskool Framesby deel nog ‘n oudleer s’n inspirasiestorie
ADVERTISEMENT
Jana Rademeyer skryf: 2000 As ek dit skryf klink dit baie langer terug as wat dit was. Dit is darem bitter vining verby. Ek sal in ‘n oogwink teruggaan skool toe. 23 jaar terug en definitief meer as 23kg meer in massa, maar as ek myself weer as skoolkind kon vermom vir ‘n dag sal dit bitter lekker wees! (Side note: Juffrou Jordaan en Cronje moet maar my taalgebruik vergewe in die paragrawe wat volg). Ek onthou ure langs die netbalbaan, kooroefeninge laat in die middae, rugbywedstryde ondersteun met volle oorgawe. Interhuissportdae was altyd vir my ‘n hoogtepunt.
Ek was in klein “plaasskool” op laerskool, so Framesby was vir my ‘n groot aanpassing. Toe ek eers my voete vind, het ek aan omtrent alles deelgeneem. Ek was definitief nie die beste leerling in die klas of die populêrste nie, maar ek het alles van die skool geniet! Daar is onderwysers en afrigters wat diep spore in my wese getrap het, en baie van my grootmenskeuses a.g.v. die inspirasie van hierdie onderwysers en afrigters. Daar is te veel om op te noem, maar elke keer as ek een van hulle sien dan vertel ek vir hulle watter groot invloed hulle op my lewe gehad het. Onderwysers se rolle is baie belangrik in kinders se lewens. Dis ‘n roeping net net ‘n beroep nie.
Dit gaan met baie verantwoordelikheid gepaard. Ek verlang vreeslik na die sorgvryheid van tienerwees. Dit is seker die grootste voorreg wat ons het, en dan eers baie, baie later besef. Ek mis die maagskoenlappers, as iemand vir jou ‘n briefie geskryf het, of na ‘n skooldans genooi het. Dinge was eenvoudiger toe, die lewe was stadiger, makliker.
Ek mis skoolvriende en -vriendinne. Ons almal sien mekaar te min. Ek het alles gedoen wat ek kon op skool, van koor sing, redenaars, skoolkoerant, tennis, netbal, atletiek . Deelgeneem aan dansklasse buite skool tye. My arme ma het omtrent gejaag van een plek na die volgende om die vier van ons by alles uit te kry.
Prestasies is seker meer ‘n persoonlike mening as wat ander dit dalk sien as ‘n prestasie, nietemin ‘n paar uitblink-oomblikke was: Ek was deel van die OP-Kinderkoor, het provinsiale netbal gespeel tot en met my honneursjaar.
Was kaptein van die onder 16/17 SA-netbalspan. Ek was op die leerlingraad van graad 10 as ek reg onthou, maar ek
dink julle sal in die argiewe moet kyk of ek nie dit opmaak nie. (Side note: ek eintlik maar ‘n “closet loser” en het ernstige “issues” omdat ek nie Hoofdogter in matriek was nie. Dis nou al ‘n gespottery dat op die ouderdom van 41 ek nogsteeds op Emtia Morrison jaloers is).
Ek was lank en baie sentimeters terug ook Mej Framesby en Oos-Kaap Hoërskole. Sestien en nie gewoond aan
“ladylike” wees nie, was dit nogal ‘n skok dat ek in graad 10, as die plaasmeisie moes rond paradeer in ‘n rok op ‘n
verhoog. Die enigste rok wat ek eintlik wou dra, was my skoolrok. Dink my grootste trots, (wat ek nooit voor beloon is nie,) was dat ek nie een dag van Sub A ( graad 1 ) tot in Matriek ‘n dag skool gemis het nie. Dink dis duidelik dat ek skool baie geniet het. Ek was definitief nie die “cool” girl nie. Ek was vir twee jaar na skool oorsee. Eers in Amerika; ek het in Philadelphia gewerk as Au Pair en deeltyds geswot.
Ek het in Engeland gedraai, en toe vir ‘n paar maande gewerk voor ek my by UPE ( nou NMU ) aangesluit het.
Ek het ‘n sportbeurs gehad so daar was nie tyd vir stokkiesdraai nie. Ek moes maar klas op Vrydae-oggende bywoon
al het ek my beste die vorige aand gegee. Drie aande ‘n week het ek by ’n “pub” gewerk en die ander aande was gevul
met netbal en sosiale bedrywe. Ek het my Kommunikasie en Kultuur Graad by UPE verwerf en is toe vir my honneursjaar Maties toe. Stellenbosch swot dae was warm en moeilik,maar op af dae het ek by die Dierebeskermingsvereniging gewerk, en twee aande ‘n week in Kaapstad selfs ekstra Drama en TV-aanbiedingklasse
geneem.
Maties was ‘n fees, al was ek omtrent twee jaar ouer as my klasmaats. Op daardie stadium het ek gedink ek
weet watter kant toe ek wil gaan met my lewe. Ek het nie. Ek het Cradock toe getrek , en vir ‘n Landbou
Werkgewersorganisasie gewerk vir omtrent ‘n jaar. Cradock is klein dorpie met goeie mense. My tyd daar was bitter
spesiaal. Tot my ouers se ontsteltenis is ek toe Spanje toe. Vir amper vier jaar het ek in Valladolid skool gegee en gewerk vir ‘n sportagentskap wat rugbyspelers wêreldwyd in klubs geplaas het. Ek het self soveel probeer reis as wat ek kon. Ek het hulle taal leer praat, kos geëet saam met plaaslike inwoners en belasting betaal. Spanje was die beste leerskool oor die lewe.
Ek was intussen al 5 keer terug om te gaan kuier. 2010 was ek terug op Suid-Afrikaanse bodem. So het my ander besighede ontstaan, en ek ‘n treetjie nader aan ‘n grootmens gekom. Ek het deeltyds vir die Melk Produsente organisasie gewerk en Slipperfields, ’n troue- en konferensievenue begin en bestuur. Ek kon geld by die bank van JW Rademeyer leen om Slipperfields te begin, en weet dat dit ‘n groot voorreg was. Na 5 jaar was die skuld vereffen en was ek amper ‘n grootmens wat self moes pa staan vir alles wat nog kom, insluitend die RONA wat basies versoorsaak het dat ek nie sal kan aftree eendag nie. Daar was baie lesse geleer, gesmokkel en gesmous in hierdie tyd, maar ons is daardeur. ( Side note: Ek gebruik nie die “C word” nie dis waar RONA vandaan kom).
Slipperfields is my eerste baba. Dis harde werk om ‘n besigheid binne die gasvrydheidsektor te begin, en ’n nog harder werk om ‘n sukses daarvan te maak. Maar dis nou 13 jaar later en Slipperfields is steeds ‘n kosbare en, as ek self so mag sê ’n pragtige plek. Ek was bevoorreg om al deel te wees van baie mense se vieringe. Op ‘n stadium het ek en my sussie ook ‘n babawinkel in PE begin , Nesting Place, maar ek dink ons was dalk te optimisties met ons gehalte van produkte, en was daar toe nie regtig in in ons duursame produkte ingekoop nie. Maar dit was ook ‘n goeie les om te leer. Alles wat jy aanpak gaan nie noodwendig ‘n sukses wees die eerste keer nie. In my geval het ek nog altyd inspirasie in ander om my gevind, my ouers wat uiters hardwerkend is, my susters en boetie wat, net soos ek, weet dat alle voordele wat ons mag hê ons nie altyd verdien nie, maar dat ons dit moet gebruik as die geleentheid homself voordoen. Drie van my ander besigheidsvennote wat vroue is, vir wie ek ongelooflik baie respek het. Ek glo dat dit noodsaaklik is om werksverhoudinge te hê met ander wat in sekere areas jou eie vermoë oortref, en tekortkominge uitbalanseer. .
Dit is hoe ander jou aanvul en hoe jy self groei. Decor Company (blomme en dekor maatskappy), Swanlake Gardens (venue in Kragga Kamma weg, en nou Die Hoofmeises by Die Kosblik (Hoërskool Framesby se kafeteria) is alles besighede waar nie net my werk, opofferinge en talent tel nie, dit sal nie bestaan as dit nie was vir persoon wat aan die oorkant van lessenaar van my sit nie. Die span wat ‘n besigheid bedryf is nie een persoon nie, dit neem meer as net een. Binnekort maak daar nog ‘n besigheid Second Time Around sy deure oop, en ook hier is ek in ‘n gesamentlike onderneming met ’n goeie vriend, wat sy mark en klientebasis goed ken. Ek vereenselwig my graag met ander wat altyd meer as hul deel doen, eerlik is in hulle onderneming en outentiek is.
Ek kan ‘n boek skryf oor mense wat ek al deur die werk ontmoet het , reise wat my na fantasiese plekke geneem het ,
en trane wat al gestort is as mens jou mylpale nie so vining of goed bereik soos jy gehoop het nie. Ek sal niks in my
lewe verander nie, tussendeur al die lang ure se werk, het ek net so baie ure se kuier en lag. Maar in alle eerlikheid weet ek nogsteeds nie wat ek wil wees as ek eendag groot is nie.
Ek het op ‘n plaas groot geword, en bly steeds op ons familieplaas Bergsig Boerdery. Diere lê my nog altyd na aan die
hart.. Ek is ‘n “sucker” vir ‘n SPCA of DBV hond. Omtrent al die honde wat ek al gehad het, was aanneem-honde. My
eerste hond, was vernoem na my graad 8 kêrel (genade ek was regtig ‘n loser). Die naam was gelukkig vir hom
agterstevoor om gespel. (Hom is die kêrel nie die hond nie) Huidiglik het ek twee honde Ben en Garfield by my huis en ook baie te sien by Slipperfields as ek daar werk, en dan Feya en Baily wat by my ouerhuis loseer. Voor hulle was daar twee ander aanmeen-honde Jack wat ‘n Labrador was en Bob wat ‘n Jack Russel was (Side Note : Bob is vernoem na die rugbyspeler Bob Skinstad – goeie genade ek was oortuig hy sou eendag my man wees, wel hy en elke ander rugbyspeler wat my kêrel was van graad 10 tot ek getroud is. (Daar was net 3, nie ‘n hele span van hulle nie.)
My regte baba, en gunsteling is ons seun Richard John Van Eyk.
RJ raak 10 hierdie jaar, en hy is absoluut die beste deel van my. Hy is ondeund, maar gelukkig vir hom die mooiste seun met groot blou oë. Vir my, is hy ‘n groot dryffaktor in my lewe , en die nalatenskap wat ek vir hom wil los. Nie noodwendig ‘n fisiese nalatenskap nie, maar die trots in familiewaardes, tradisies, leef in die oomblik en jou beste gee. RJ is ‘n positiewe seun wat ook aan alles wil deel neem, hy het definitief baie sporttalent van sy pa en grootouers geërf. Hy is ontsettend vrygewig vir die wat minder het, sal hy die hemp op sy rug uittrek en vir ‘n ander persoon gee. RJ is lief vir kosmaak saam met my of ons alleen by die huis is, en of as ons spyseniering moet doen vir 300 gaste. Ek kan nie wag om te sien watter berge hy alles in die toekoms gaan versit nie. En tot dan sal ek aanhou voorgee ek is ‘n grootmens, en hopelik iewers langs die pad uitvind om dit presies reg te doen. Groete Jana Rademeyer Die Hoofmeisie, entrepreneur , troste ma en snoepietannie.