Paul Roos wen Zest Fruit Gerrie Berner Tennistoernooi 5 jaar in ‘n ry
ADVERTISEMENT
Paul Roos Gimnasium se tennisspanne het koning gekraai die afgelope naweek op die tennisbaan. Die 1ste-span het na ‘n baie uitdagende naweek daarin geslaag om die Zest Fruit Gerrie Berner Tennistoernooi vir die 5de jaar agtereenvolgens te wen en nog ‘n span seëvier in die die jaarlikse Groot 5-tennistoernooi.
Die Zest Fruit Gerrie Berner Tennistoernooi, wat in sy 17de jaar is, is deur Paul Roos aangebied en twaalf skole van regoor Suid-Afrika het om hierdie gesogte trofee meegeding. Dit was die 13de titel vir Paul Roos en die enigste ander skool wat die trofee nog ooit kon verower het, was St Stithians College.
Die Paul Roos-span het vir Hoër Jongenskool Paarl met 4 – 1 geklop in die finaal wat op die bane van Paul Roos Gimnasium beslis is. Die span het die nr. 2 speler, Johan van Wijk reeds Donderdagoggend teen King Edward School verloor nadat hy die meniskus in sy knie geskeur het. Die ander spanlede het die teleurstelling oorkom en die finaal aan Johan opgedra en uitstekende tennis gespeel om ‘n jong maar sterk Hoër Jongenskool Paarl-span te klop.
Paul Roos het die dubbelspunt verdien deur 2 van die dubbelswedstryde met 8 – 0 te wen. Daarna het die Maroen Masjien 3 enkelspelwedstryde gewen en 1 verloor ten einde die wentotaal van 4 punte te bereik. Dit was nie nodig om die twee orige enkelwedstryde te speel nie omdat die wentotaal van 4 punte reeds bereik is.
Die PRG-span het bestaan uit Ernst Gouws (SA no.1 o/17), Johan van Wijk, Stephen Claassen, Willem de Waal, Leonardo Sola, Echard de Kock en Jake Downie. Die PRG-span het as volg met die ander skole klaargespeel:
- PRG wen Hoër Landbou Oakdale: 7 – 0
- PRG wen King Edward VII School: 5 – 2
- PRG wen Afrikaanse Hoër Seunskool: 6 – 1
- PRG wen Hoërskool Waterkloof: 6 – 1
- PRG wen Kearsney College: 6 – 1
- PRG wen Grey College: 4 – 0 (semi-finaal)
- PRG wen Hoër Jongenskool Paarl: 4 – 1 (finaal)
Die ranglys van die skole was as volg:
1. Paul Roos Gimnasium
2. Hoër Jongenskool Paarl
3. Grey College
4. Hoërskool Waterkloof
5. Hoërskool Outeniqua
6. Afrikaanse Hoër Seunskool
7. St Stithians College
8. King Edward VII School
9. Hoër Landbou Oakdale
10. Kearsney College
11. Clifton School
12. Hoërskool Stellenbosch
Paul Roos Gimnasium het ook vir die eerste keer aan die jaarlikse Groot 5-tennistoernooi, wat deur Hoërskool Nelspruit aangebied is, deelgeneem en die toernooi gewen.
Uitslae:
- Wen Monument Hoërskool 19-1
- Wen Nelspruit Hoërskool 19-2
- Wen Afrikaanse Hoër Seunskool 15-4
- Wen HTS Middelburg 16-0 en
- Wen Boland Landbou in die finaal 5-1.
Die seuns het ook die beker gewen vir sportmanskap.

Groot 5 Wenners – span

Groot 5 Wenners -Justin Cowley en Louis Uys

Paul Roos Wen Span 2022









