[Onderhoude]- Hoërskool Stellenberg Hokkiedogters Eerstespankaptein – Amy Ferreira
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die hokkiedogters eerstespankaptein van Hoërskool Stellenberg- Amy Ferreira
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Stellenberg vs Durbanville hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.

Amy Ferreira
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Die voorseisoen het sterk op fiksheid en voorbereiding gefokus om die span fisiek vir die seisoen gereed te kry. Die spelers het deurgaans hard gewerk en baie toewyding en dissipline getoon. Dit was veral bemoedigend om te sien hoe die nuwe spelers die uitdaging aangepak en die taak met ywer aanvaar het.
Net so indrukwekkend was die rol van die ouer en meer ervare spelers, wat die nuwe spelers van die eerste dag af welkom laat voel het. Hulle het die nuwe spelers ondersteun, gelei en by die span se kultuur ingesluit. Dit het gehelp om ’n sterk eenheid en goeie spangees te bou.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel?
Ons het vanjaar ’n jong, talentvolle span wat honger is om hokkie te speel en sukses te behaal. Die spelers werk hard en groei elke week as ’n eenheid. Hulle wys reeds waartoe hulle in staat is, en daarom is ons baie opgewonde om te sien hoe hulle deur die loop van die seisoen verder ontwikkel. Ondersteuners kan beslis uitsien na opwindende en passievolle hokkie.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Vir my is dit ’n ongelooflike voorreg om my skool se kleure te dra en die span te verteenwoordig. Net voordat ek die veld betree, herinner ek myself daaraan hoe bevoorreg ek is om hierdie geleentheid te hê. Ek weet ook dat ons as span goed sal vaar indien elke speler haar taak verrig.
Dit vul my met trots en opgewondenheid en motiveer my om alles op die veld te gee – nie net vir myself nie, maar ook vir my span en my skool.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Ons span se identiteit word gekenmerk deur ’n vinnige, aanvallende speelstyl, goeie baltempo en sterk spanwerk. Ons probeer altyd om positief te speel, druk op ons teenstanders te plaas en terselfdertyd druk goed te hanteer.
Ons ingesteldheid is dat ons nooit van ’n uitdaging sal terugdeins nie. Ons daag onsself in elke wedstryd uit om beter as die vorige keer te wees.
Wat ons spangees betref, is ons ’n hegte span wat mekaar ondersteun en respekteer en deur goeie én moeilike tye saamstaan. Ons lag baie saam, geniet mekaar se geselskap en bou só ’n sterk spangees wat ons help om natuurlik en vloeiend op die veld te speel.
Watter standaard het jy en jou span vir julself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? Ons doel is om die Premierliga te wen. Buiten die uitslae wil ons egter ook elke week groei, konsekwent speel en ’n sterk kultuur van dissipline, harde werk en trots in ons span vestig.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Die wedstryd teen Collegiate staan beslis vir my die meeste uit. Hulle is een van die topdrie-spanne en handhaaf altyd ’n hoë standaard. Ons het vroeër teen hulle gelykop gespeel, wat vir ons gewys het dat ons op dieselfde vlak kan meeding.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Ek dink veral die jonger spelers, en spesifiek ons drie graad 8-leerders, gaan mense hierdie seisoen verras. Dit is ’n groot stap vir sulke jong spelers om direk by ’n Premierligaspan aan te sluit, maar hulle het reeds gewys dat hulle die talent en ingesteldheid het om op hierdie vlak mee te ding.
Hulle bring vars energie, selfvertroue en baie potensiaal na die span. Ek glo hulle is beslis spelers om hierdie seisoen dop te hou – en ook vir nog baie jare wat voorlê.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur?
Hokkie leer ons baie meer as net die sport self. Dit leer ons tydsbestuur, dissipline en verantwoordelikheid, asook hoe om saam met ander na ’n gemeenskaplike doelwit te werk. Spansport beklemtoon die feit dat ons mekaar nodig het.
Soos Henry Ford gesê het: “Om bymekaar te kom, is ’n begin; om saam te bly, is vooruitgang; en om saam te werk, is sukses.”
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek wil ’n leier wees wat deur my optrede lei, eerder as net deur my woorde. Ek wil die voorbeeld stel deur hard te werk, positief te bly en altyd die span eerste te plaas. Ek hoop ook om my span se passie en liefde vir hokkie verder aan te wakker en hulle aan te moedig om altyd hulle beste te gee.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek hoop mense sal sê dat ons ’n span is wat ’n vinnige aangeespel speel, goeie dissipline handhaaf en altyd respek teenoor ons teenstanders en afrigters toon. Ek wil hê hulle moet ná die wedstryd wegstap en dink: “Hoe laat speel die Girls in Jade volgende week?”












