[Onderhoud] Diamantveld- Eerstespan Hokkiedogterskaptein – Miné Auret
ADVERTISEMENT
AWSUM het die geleentheid gehad om met Miné Auret, Eerstespan Hokkiedogterskaptein van Diamantveld te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Op watter aspekte van fiksheid en strategie het die span tydens voorseisoefening gefokus? Ons het vroeg in die jaar reeds met fisiese fiksheid begin, sodat ons nie van ons volle potensiaal weerhou word nie. Ons het ook betyds gefokus op die identifisering en verdere ontwikkeling van elke speler se sterkpunte.
Wat is julle span se sterkpunte hierdie jaar? Ons het ’n ongelooflik hardwerkende span wat alles op die veld gee. Elkeen se unieke speelstyl dra by tot ons sukses en help ons om hoër hoogtes te bereik. Ons span is ook aanpasbaar en kan maklik reageer op die veranderinge van ’n wedstryd.
Wat beteken dit vir jou om die skool se eerste hokkiespan te lei? Dit is vir my ’n groot voorreg en eer. Ek hoop dat my liefde vir hokkie ander kinders sal inspireer om ook die sport aan te neem. Ek wil graag my voetspore agterlaat, soos die vorige kapteine dit vir my gedoen het.
Het julle skool ’n groot hokkiekultuur, en hoe belangrik is sukses vir julle span om dit te volhou? Ja, deur ons span se sukses kan ons meer leerders inspireer om hokkie te speel. Met die bou van die skool se eie Astro skep dit nog meer geleenthede vir deelname en groei in die sport.
Wat wil julle as ’n span in 2025 bereik? Ons wil graag in 2025 as Noord-Kaap-liga wenners gekroon word en ook goed presteer in die SSR.
Watter wedstryd en/of toernooi is vir julle die spesiaalste, en hoekom? Classic Clashes is vir ons die grootste wedstryd van die jaar, want dit trek die grootste belangstelling en is altyd die hoogtepunt op die kalender.
Die SCST-toernooi is net so besonders omdat dit vir ons die geleentheid bied om mekaar beter te leer ken, mekaar as span te ondersteun, en die beste in mekaar na vore te bring.
Is daar ’n hokkiespeler of sportfiguur na wie jy opkyk, en hoe het hulle loopbaan jou benadering tot die spel beïnvloed? Mustapha Cassiem. Hy gee altyd 110% in elke wedstryd en is nie skaam om te wys hoeveel hokkie vir hom beteken nie. Sy unieke speelstyl inspireer my om altyd my beste te gee.
AWSUM het gesels met die Hoërskool Diamantveld eerstepan dogtershokkie-afrigter Steve Dooling, ees wat die toeskouers Saterdag kan verwag:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Die skool en ouers kan ‘n span verwag wat met trots, passie en toewyding speel. Hierdie groep dogters het hard gewerk om as eenheid saam te groei, en hul sal met alles wat hulle het, speel – nie net vir die wen nie, maar vir mekaar en vir hul skool.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor? (fisies en mentaal) Ons fokus op strukture en spelpatrone tydens oefeninge om seker te maak almal verstaan hul rolle. “Kop-werk” is ook belangrik en hier werk ons aan fokus, selfvertroue, en spansaamehorigheid – deur spanpraatjies, video-ontleding en prettige, motiverende aktiwiteite om die regte gemoedstoestand vir wedstryddag te kweek.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons grootste krag lê in ons span-gees en hoe hard die spelers vir mekaar werk.
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter in jou lewe al gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Ek het baie geleer by afrigters wat ek as speler gehad het – veral dié wat ‘n balans kon handhaaf tussen dissipline en deernis. Ek kyk op na afrigters wat die mens agter die speler raaksien en ontwikkeling bo prestasie plaas.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle op die baan/veld hardloop? Ek herinner hulle dat hulle voorbereid is, dat hulle mekaar het, en dat hulle met trots moet speel – vir hulself, hul span en hul skool. Ek sê altyd: “Gee jou beste, speel met hart, en geniet elke oomblik – “It is your time to shine’.”









