Nog ‘n sege vir Hoërskool Ermelo-hokkie
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ermelo-hokkie oorwin weer. Op Donderdag 16 Junie het die Erries se tweedespan dogtershokkie aan die Mpumalanga-uitspele deelgeneem. Dié dag moes die dogters vier wedstryde speel en hulle het hulself uitstekend van hul taak gekwyt tot aan die einde.
In die uitspeelrondtes kom hul te staan teen Hoërskool Middelburg en Hoërskool Hoogenhout. EHS wen albei wedstryde met onderskeidelik 2-0 en 5-1. In die semi-finaal speel die Erries teen Hoërskool Piet Retief en wen hierdie wedstryd met vier doele teenoor nul. Die laaste wedstryd vir die dag was teen Hoërskool Secunda en EHS maak skoonskip in dié finaal met ‘n oorwinning van 5-2. Hoërskool Ermelo se tweedespan dogtershokkie word gekroon as Mpumalanga-wenners! Baie geluk aan hierdie span en dankie vir die dogters en afrigter se harde werk, asook die ondersteuning wat die span het. EHS is met reg trots op hierdie prestasie en wens hulle alle voorspoed toe vir die pad vorentoe.










