Merensky Landbou Akademie se Entrepreneurs Pronk in die Top20
ADVERTISEMENT
Merensky Landbou Akademie se Entrepreneurs Pronk in die Top20! Marike Theron & Henk de Wet het in die Julie vakansie op ‘n landswye toer gegaan saam met die Top30 hoërskool entrepreneurs om die Uitdagingsrondte aan te pak van die “Maak My ‘n Miljoenêr” Entrepreneur van die Jaar kompetisie en ViaTv reeks, waar hulle entrepreneurkennis en vaardighede tot die uiterste beproef was.
Die “Maak My ‘n Miljoenêr” Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is ‘n inisiatief vanaf Albert van Wyk in samewerking met ATKV-jeugprojekte, Die Mos-Inisiatief, Akademia, ATKV-oorde, Jenwil Blouster en Lift Airline.
Die doel van die Maak my ‘n Miljoenêr entrepreneur kompetisie is tweeledig:
- Bewusmaking van entrepreneurskap by skole
- Bemagtiging van hoërskool entrepreneurs deur mentorskap en ondersteuning
Die “Maak My ‘n Miljoenêr”-span het vanaf verlede jaar Oktober ‘n landswye toer afgeskop opsoek na DIE Hoërskool-entrepreneur wat Albert van Wyk kan mentor om hom of haar ‘n Miljoenêr te maak. Albert en die “Maak My ‘n Miljoenêr” span het 82 skole besoek, 92,000 Hoërskool-leerders toegespreek en 240 Hoërskool-entrepreneurs het ingeskryf vir die kompetisie. Marike & Henk het eers die streng seleksie- en Brandbankrondte suksesvol deur gemaak en toe as deel van die Top30 aan die Uitdagingsrondte deelgeneem, waar hulle besigheidskennis verder op die proef gestel was.
Die Uitdagingsrondte neem die entrepreneurs na Akademia en verskillende ATKV- oorde regoor die land, waar hulle regte wêreldbesigheidsprobleme moet oplos. Hier moet elke deelnemer bewys dat hy of sy kan saamwerk, kreatief dink en praktiese oplossings kan vind. Die spanne se werk word deur ‘n paneel van beoordelaars streng geëvalueer en bepunt. Die wenspan verdien ‘n vasgestelde aantal punte, terwyl die verloorspan dan die geleentheid kry om twee van hul eie spanlede af te stem. Marike Theron & Henk de Wet het die uitdagings met deursettingsvermoë en kreatiwiteit aangepak en so die streng afstemmingsproses oorleef. Dit is vir ons as Merensky Akademie ‘n groot trots om te sê dat Marike & Henk nou amptelik deel is van die Top20 van hierdie nasionale entrepreneur kompetisie.
Om die Top20 te haal is bewys van Marike & Henk se entrepreneurvermoë en harde werk, asook sy deursettingsvermoë en passie vir entrepreneurskap. Dit is duidelik dat Marike Theron & Henk de Wet net aan die begin staan van ‘n opwindende reis vol geleenthede, sukses en die vervulling van groot drome. Ons en die hele Merensky Landbou Akademie – gemeenskap, is baie trots op Marike Theron & Henk de Wet se prestasie en glo dat hierdie slegs die begin is van ‘n opwindende pad vol sukses en groot drome in hulle toekoms as entrepreneur.












