Merensky Landbou Akademie debatspanne maak skoonskip
ADVERTISEMENT
Op 12 April 2025 het beide senior debatspanne van Merensky Landbou Akademie hul vaardighede ten toon gestel en hul onderskeie debatte gewen – ’n uitsonderlike prestasie wat hul plek in die ATKV-semifinaal verseker het. Hierdie volgende rondte vind op 24 Mei 2025 plaas by C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein. In die eerste debat het Jean de Wet en Luzaan Erasmus as teenstaanders te staan gekom teen Hoërskool Ferrum, waar hulle met insig en oortuiging hul argumente gestel het. Daarna het Eddie Mostert en Lua Streicher in die rol van voorstanders Hoërskool Ermelo die stryd aangesê – ook met sukses. Die debatspanne het hulself puik van hul taak gekwyt en bewys dat hulle hul sout werd is, selfs met die uitdagende onderwerp: “Die afskaling van gedrukte media is (nie) geregverdig (nie).” Plasiedebatteerders, ons wens julle alle sterkte toe vir die semifinaal. Gaan wys wat in julle steek – en bring daardie debatbeker plaas toe!

Hoërskool Ferrum en Jean de Wet en Luzaan Erasmus

Jean de Wet en Luzaan Erasmus

Lua Streicher en Eddie Mostert

Lua, Eddie en Hoërskool Ermelo









