HS Ferdinand Postma aangewys as die nr 8 Afrikaanse skool in SA
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ferdinand Postma is vanjaar aangewys as die nommer 8 Afrikaanse skool in Suid-Afrika. Die skool se bestuur en onderwysers was baie dankbaar en oorweldig om hierdie wonderlike nuus te ontvang. Geluk klas van 2021! Hierdie dubbelmedium hoërskool in Potchefstroom se leerders het met die leiding van besonderse onderwysers voorwaar puik gevaar in 2021 se matriekeindeksamen.
Op grond van die vorige jaar se matriekuitslae (die klas van 2020) het die skool 13de in die land geëindig in dieselfde kategorie, van alle Afrikaanse skole in Suid-Afrika. Dit is ‘n wonderlike genade en Ferdies is dankbaar dat hulle nou al vir die tweede jaar in ‘n ry onder die top 20 Afrikaanse skole in Suid-Afrika val. Saam met dit is dit ook vanjaar die skool se 22ste opeenvolgende jaar waar hulle ‘n 100% slaagsyfer behaal het.

Jaarliks publiseer die SOS (Skole ondersteuningsentrum) ‘n verwerkte verslag van die matriekuitslae van die vorige jaar. Dit is in hierdie verslag waar Ferdies (soos die skool in plaaslike kringe bekendstaan) uitstaan as ‘n top 10 Afrikaanse skool in die land, op grond van die aantal onderskeidings per kandidaat. Dis wel nie al nie, die skool se Fisiese Wetenskappe bekroon ook die algehele 19de plek in die land op grond van die persentasie onderskeidings van die 2021 groep matrieks.










