HS Ermelo toon hul staal tydens MPU-uitspele
ADVERTISEMENT
Saterdag, 4 Junie. Hoërskool Ermelo se rugbyvelde was die tuiste vir die uitspele van die finale van die B-liga en die semifinale van die A-liga van die Mpumalanga Grootskole Rugbyliga.
EHS se spanne het besonder goed gevaar en hul uitstekend van hul taak gekwyt! Die Erries staan breëbors agter al hul spanne wat die afgelope naweek uitgedraf het.
Die B-spanne se uitslae was as volg:
- o.14B-span: verloor ongelukkig 0-41 teen Hoërskool Piet Retief en tree uit die stryd as MPU-naaswenners.
- o.15B-span: moes met ‘n telling van 5-17 die knie teen HTS Witbank buig en word ook aangewys as naaswenners in hul liga.
- Derdespan: wen 24-0 teen Hoërskool Piet Retief en seëvier as MPU-wenners in hul liga.
- Tweedespan: verloor ongelukkig 12-24 teen Hoërskool Piet Retief, maar tree ook trots na vore as naaswenners.
Die meeste van die A-spanne wen hul wedstryde en dring deur na die MPU-finaal wat op 11 Junie weer te EHS plaasvind. Die A-spanne se uitslae sien as volg daar uit:
- o.14A’s: verloor in die doodsnikke van die wedstryd 20-26 teen Hoërskool Piet Retief.
- o.15A’s: haak egter die knoop 25-5 deur teen Hoërskool Piet Retief.
- o.16A-span: steek Hoërskool Piet Retief die loef af met ‘n oortuigende sege van 54-0.
- Die eerstespan kroon die dag se mooi spel met hul telling van 26-12 teen HTS Witbank.
Die naweek se sport was beslis ‘n voorsmakie van die aanskoulike rugby wat die komende naweek op die Erries se velde wag.
Hartlik geluk ook aan al die B-spanne wat besonder goed gevaar het! Hulle is die A-spanne se ruggraat en Hoërskool Ermelo is baie trots op hul mooi spel en gedrag deur die jaar.

Hennie Holtzhausen (foto krediet: Anton Esterhuizen)

Charlie du Plessis (foto krediet: Anton Esterhuizen)









