Hoërskool Volksrust ATKV-tienertoneel is tops
ADVERTISEMENT
Op Maandag, 24 Julie 2023, het drie VHS-leerkragte, vyf aspirant-aktrises, ‘n klankman en ‘n verhoogbestuurder die lang pad na Unisa se Kleinteatrer te Pretoria aangepak om deel te neem aan die ATKV-tienertoneel se Gauteng streeksfees 1. Daar aangekom moes die spannetjie vinnig deur hul kleedrepetisie draf in voorbereiding vir hul optrede later daardie aand. Toe optreetyd uiteindelik aangebreek het, was die nerwe behoorlik gedaan, maar die VHS-leerders het hul baie goed van hul taak gekwyt.
Na afloop van die optrede het daar ‘n mentorsessie plaasgevind waartydens die drie afrigters en leerders waardevolle terugvoer en leiding ontvang het van die mentor-beoordelaars en akteurs Solomon Cupido en Lindsey Cele. Vir hul vermaaklike toneelspel het die vyf VHS-aktrises, Gené Meyer, Naomi van der Schyf, Anoushke Houy, Amahle Mlambo en Tyra Janse van Rensburg, elk ‘n bronssertifikaat ontvang. Die twee seuns, Juan Beeslaar en Nico Nel (verantwoordelik vir die klank, beligting en algemene verhoogbestuur), het die beoordelaars so beïndruk dat hul elk beloon was met ‘n silwersertifikaat. Hoërskool Volksrust is ongelooflik trots op hierdie leerders en afrigters en sien uit na die toneelgroep se volgende opvoering op 22 Augustus 2023 tydens die FAK-toneelfees te Ermelo.










