Hoërskool Stellenberg leerder ontvang die skool se hoogste toekenning
ADVERTISEMENT
Hoërskool Stellenberg se hoogste toekenning, die Summa Cum Laude toekenning, is hierdie jaar aan Nadia Rossouw gedoen. Om hierdie eerbewys te ontvang, moet ’n leerder aan die volgende vereistes voldoen en die volgende toekennings in die senior fase verwerf het:
- vier keer akademiese erekleure,
- erekleure in ‘n erkende kultuurkode, en
- erekleure in ‘n erkende sportkode.
Met trots word hierdie toekenning aan ‘n merkwaardige leerder, Nadia Rossouw, gedoen. Ons hou graag haar merkwaardige curriculum vitae aan u voor:
Swem: Nadia neem vanaf graad 8-11 aan die SA Regional Level 3 Swimming Championships deel waar sy boonop in 2023 ‘n goue medalje in een van haar items verwerf. Sy ontvang elke jaar erekleure vir haar swemprestasies.
Tweekamp: Nadia was deel van die Westelike Provinsies se sweekampspan. Sy het ook ‘n brons medalje by die nasionale kampioenskappe ontvang asook erekleure (in graad 10 en 11) vir haar tweekampprestasies. Nadia is ‘n leerder wat op vele terreine aktief betrokke is. Sy tree vanjaar ook op as een van die swemspan se kapteine. Sy motiveer haar medespanlede en verleen geduldig hulp aan die nuwe graadagtswemmers. Sy is ‘n ware staatmaker en neem ook aan atletiek en landloop deel.
Musiek: Nadia is ‘n talentvolle fluitspeelster en lid van die Hoërskool Stellenberg se skoolorkes. Sy het die afgelope paar jaar baie goed presteer by die Tygerberg Eisteddfod asook in praktiese musiekeksamens. Nadia voltooi haar UNISA-eksamen in graad 4- musiekteorie tydens haar graad 10 jaar. Haar gemiddeld van 93% plaas op die UNISA-ererol. Dit is ‘n prestasie wat Hoërskool Stellenberg met erekleure beloon.
Akademie: Nadia se akademiese kompas is altyd op sukses gerig. Sy het sedert graad 8, elke jaar ook akademiese erekleure verwerf. Baie geluk aan Nadia en haar ouers. Hoërskool Stellenberg is voorwaar trots op jou!












