Hoërskool Merensky Bergfietsryers 2de in Limpopo XCO
ADVERTISEMENT
Twaalf bergfietsryers van Hoërskool Merensky het op 5 Maart in Louis Trichardt aan die tweede Limpopo XCO van die seisoen deelgeneem. Vir Wernich Steyn en Marnu Lamprecht was hierdie hul heel eerste XCO-resies. Op ‘n besonder uitdagende tegniese baan het die Plasieryers ‘n redelike rowwe dag beleef. Al die subjuniors, Sumieke Malherbe, Luandie Marx en Wernich Steyn, het om die beurt hard met moederaarde kennis gemaak. Desondanks bloed, sweet en stukkende knieë het al drie ryers dit steeds reggekry om onder die top 10 te eindig.
By die jeug-afdeling het sake nie veel gladder verloop nie. Kamogelo Monyela het sy handvatsels gebuig en sy saal verloor en moes die laaste paar kilometer, met sy fiets oor die skouer, indraf. Marnu Lambrecht het sy ken oopgeval en met stukkende knieë die resies voltooi. Anke Rood het steeds die 4e plek behaal, nadat haar ketting in die middel van die resies gebreek het, en moes hardloop om dit by die tegniese span te laat herstel. Sophia van Wyk en Xandrich Schoerie behaal elkeen ‘n 3e plek in hul eerste seisoen in die ouer groep. Riwan van der Merwe het ook onder die top 10 geëindig.
André van Deventer neem ‘n 4e plek in die Junior Seunsafdeling in. Dian Venter behaal ‘n top 10 plasing in sub-junior seunsafdeling. Merensky se ywerige fietsryers beoog ‘n vaardigheidsontwikkelingskamp wat te Ellisras gehou sal word op 25 Maart.

Anke Rood









