Bethlehem Voortrekker Hoërskool is gekroon as die nommer 1 Akademiese skool
ADVERTISEMENT
Bethlehem Voortrekker Hoërskool is as die bes presterende akademiese skool in die stedelike kategorie, in die Thabo Mofutsanyana-distrik aangewys. Tydens die jaarlikse “Well Done”-funksie van die Departement van Onderwys op Vrydag 20 Februarie het Voortrekker met die louere as die beste stedelike presterende akademiese skool in die distrik weggestap.
Die uitsonderlike prestasie van die matriekklas van 2025 het die skool verskeie toekennings besorg, waaronder topprestasies in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Toerisme en Wiskunde. Benewens talle trofeë, kontantbewyse en sertifikate wat aan skole in die distrik oorhandig is, is Voortrekker as die algehele voorloper uitgesonder. Die skool is hiermee opnuut beloon vir hul volgehoue strewe na uitnemendheid en kan met trots spog met hul akademiese presteerders.
Benette Brits, die adjunkhoof (Akademie) van Voortrekker, het gesê die skool wil elke graad 12-onderwyser, oor al die vakgebiede heen, hartlik bedank vir hul harde werk en toewyding wat tot die spesiale toekennings bygedra het. “Ons is opreg dankbaar vir die spesiale toekennings en die harde werk van elke leerder en onderwyser wat dit moontlik gemaak het,” sê Gys Coetzee, skoolhoof van Voortrekker. Die geleentheid het by die Bluegumbosch-stadion in Qwaqwa plaasgevind











