Wiele: Mitsubishi se nuwe Triton bakkie
Woorde deur Johan Mouton
Met ‘n geskiedesnis van goeie en duursame bakkies het Mitsubishi in April 2019 hulle Triton bakkie ‘n nuwe voorkoms gegee en daarby sommer ook ‘n hele paar verbeterings aangebring. Opvallend is die nuwe voorkant met ‘n heel nuwe ontwerp wat die bakkie sterk en onmiskenaar laat lyk. In geheel is dit ‘n mooi moderne ontwerp en beslis ‘n verbetering op vorige ontwerpe wat soms ‘n paar voornemende kopers laat frons het.
Daar is vier weergawes van die nuwe dubbelkajuit Triton te koop. Twee met ’n 6-spoed handratkas en twee met ‘n 6-spoed outomatiese ratkas. Daar kan vir elkeen van hierdie weergawes kan tussen agterwiel aandrywing en vierwiel aandrywing gekies word.
In die kajuit is daar net subtiele veranderings. Daar is byvoorbeeld sagte insetsels ingestuk by die deure, die handrem en onder voor by die paneel in die middel. Met die groot raakskerm kan jy jou selfoon koppel met Apple Carplay of Android Auto. Hier en daar is die skerm nie so gebruikersvriendelik nie – totdat jy dit gewoond raak. Alles binne gee ‘n gevoel van luuksheid en veral dat dit solied gebou is. Die leer oorgetrekte sitplekke lyk en voel duursaam en is heel gemaklik vir die lang pad. Dit is ook elektronies verstelbaar. Daar is niks wat raas, skud of kraak as die voertuig op enige terrein beweeg nie..
Al vier weergawes van die Triton gebruik die 2,4 diesel enjin wat ook in die vorige modelle gebruik is. Die werkverigtingsyfers is 133kW en 430Nm. Dit is ongeveer die selfde kraglewering as wat sy mededingers het. Mitsubishi het vir die outomatiese ratkas ‘n sesde rat bygevoeg waar die vorige Triton slegs 5 gehad het. Misubishi gee die brandstofverbruik aan as 7,6l/100km vir die outomatiese model.
Op ‘n teerpad is die rit effe hard en stamperig soos jy van ‘n bakkie verwag maar hy voel baie veilig en padvas om draaie en teen die wettige toegelate snelhede. Remme is verbeter met groter remskywe voor. Die enjin is stil binne die kajuit en het lekker wringkrag en is gemaklik om op spoed stadiger voertuie maklik verby te gaan. Die nuwe 6-spoed outomatiese ratkas werk seepglad saam met die 2,4 liter dieselenjin en dra by tot die gemaklike rit.
Dit is egter in die veld waar die nuwe Triton tot sy reg kom. Mitsubishi het ‘n nuwe veldrystelsel in die bakkie geplaas wat saam met die grondvryhoogte van 22cm die 4×4 weergawe van die bakkie se veldryvermoëns regtig puik maak. Ons het die kans gekry om dit te toets deur dongas en steiltes en skerp afdraandes. Met ‘n knop op die middel konsole kan jy die regte modus vir die spesifieke veldryomstandighede kies. Daar is keuses vir gruispad, sand of sneeu, en modder wat saam met hoë- of lae strek ewenaar gekoppel kan word. Dit sluit ook ‘n agterste sluit-ewenaar (diff lock) en afdraandbeheer in. Met hierdie stelsels het die bakkie al die uitdagings van die moeilike terrein relatief maklik baasgeraak.
Veiligheidstoerusting is ook nie skaars nie en sluit sewe lugsakke in. Verder is daar ‘n opfrommelbare stuurkolom, sluitweer remme en elektroniese remkragverspreiding. Daar is ook dagryligte, ‘n truratkamera en deure wat vanself sluit soos die voertuig spoed optel. Ander toerusting wat die bestuurder en ander passasiers se rit meer gemalik maak, is ‘n raakskerm met radio/CD speler, dubbelsone outomatiese lugreëling, elektriese vensters asook ‘n aantal USB- en kragpunte vir eletroniese toerusting
Die Triton word gedek met ‘n waarborg van 3 jaar of 100 000 km en ‘n 5 jaar of 90 000km diensplan. Daar is ook ‘n 5 jaar padbystandsdiens ongeag die afstand wat afgelê word.
Pryse:
2,4L DI-DC handrat 4×2 – R509 995
2,4L DI-DC outo 4×2 – R529 995
2,4L DI-DC handrat 4×4 – R569 995
2,4L DI-DC outo 4×4 – R589 995
Ander outomatiese, vierwieltrek fabrikate wat oorweeg kan word is:
Isuzu D-Max R615 500
Toyota Hilux R637 500
VW Amarok R646 000
In geheel is die nuwe Triton ‘n puik bakkie wat enige tyd teenoor ander oorweeg kan word en is effe goedkoper.
Vir meer motorrubrieke, besoek gerus https://www.namwheels.com/