Wiele: Ford Figo sedan getoets
Woorde Franco Theron
Die nuwe Ford Figo is in September 2018 op die Suider-Afrikaanse paaie bekend gestel. Kort daarna, het ons die nuwe luikrug weergawe getoets, en was baie verras met die nuwe Figo se ‘waarde-vir-geld’ (lees meer: https://www.namwheels.com/tested-2018-ford-figo-hatch-1-5-trend-auto/).
Onlangs was dit die beurt van die nuwe sedan en ons het dit goed deur die toets geplaas. Een van ons joernaliste het selfs vir ‘n paar ure in die voertuig geslaap.
Dit is nie verassend om deesdae meer Figo’s as Fiesta’s op Suider-Afrikaanse paaie te sien nie. Hoewel die Fiesta deesdae ‘n uitstekende pakket bied, bied die Figo steeds ‘n goeie pakket, vir selfs minder. Dit is nie ongekend om ‘n Figo op die langpad langs die kusroetes te sien nie.
Nou, met die sedan, kan die nuwe Figo selfs meer bagasie bevat en vier volwasse persone gemaklik op die langpad neem.
Die 1.5 liter TiVCT, drie silinder petrol (88 kW en 150 Nm) enjin is ook nie lui nie. Hoewel die natuurlik ge-aspireerde enjin hoog teen die revolusies moet hardloop om die maksimum krag uit te kry, is dit nie moeilik om hierdie krag uit te kry nie. Op die lang pad is dit nie moeilik om voertuie verby te neem nie, hoewel ons dink dat ‘n tekort aan ‘n turbo moontlik hierdie kraglewering sal verminder sodra die lug dun raak.
‘n Digitale funksie net agter die stuur kom ook handig te pas om die bestuurder te help met egalige rat wisselings. Hierdie sal die bestuurder help om gemaklik deur die 5 ratte (handrat) te gaan en ‘n brandstof verbruik van 6.7 liter / 100 km te kry.
Binne is die voertuig gemaklik genoeg vir elk van die vier insittendes, met funksionaliteit soos Bloutand en USB konnektiwiteit, wat ook help om enige lang rit, korter te maak. Die kattebak het ook genoeg spasie om die trek tasse te stoor.
Algehele rygemak is voldoende en hoewel die kar redelik onstabiel in die Kaapse winde met tye mag voel, is wind- en padgeraas minimaal. Bult-stilstand hulp (Hill Start Assist) help ook natuurlik dat die Figo nie agteruit rol as daar teen ‘n afdraand stilgehou word nie.
In terme van veiligheid, word die nuwe Figo toegerus met twee voorste lugsakke, EBD en ABS.
Die nuwe Figo sedan kan vir ‘n skrale R177 600 ( vier jaar / 120 000km waarborg, vyf jaar / onbepaalde aantal km roes waarborg, drie jaar pad bystand, en ‘n vier jaar / 60 000km diensplan) aangekoop word.
Volgens ons is hierdie ‘n puik pakket en het Ford dit goed reg gekry om ‘n ‘waarde-vir-geld’ pakket te lewer.
Vir meer motornuus besoek gerus https://www.namwheels.com/