“A” Is vir Hoërskool Swellendam Afrikaanse speletjiesaand
ADVERTISEMENT
Op Woensdag, 28 Februarie, het die Hoërskool Swellendam saal gewoeker en gewemel met koppe wat krap oor verskeie Afrikaanse raaisels, uitdagings en speletjies. Spanne van 5 het deelgeneem om as die kampioene van Afrikaans geëtiketteer te word en dit was definitief nie ‘n maklike taak nie. Die deelnemers moes blokkiesraaisels voltooi, woorde soek in ‘n oerwoud van letters, ‘n woorde Suduko ontleed en nog vele meer. Die aand was egter nie net vol kopkrappery nie; die deelnemers het elk as ‘n span aangetrek om ‘n letter van die alfabet te verteenwoordig.
Daar was Minions, kamerjas-pelle, rowers en selfs Hawaii-dames. Ons sê geluk aan al die spanne wat deelgeneem het, maar ons bied ‘n genotvolle gelukwensing aan Jean Mouton, Mariana Swanepoel, Nika Kruger, Luka Steenekamp en Kyle de Bruyn wat by die saal uitgestap het as oorwinnaars! Baie dankie aan Juffrou I. Truter vir al die moeite wat sy doen om Afrikaans lekkerder (en vir party ‘n nagmerrie) te maak.

Wenspan van Afrikaanse speletjiesaand
Juhan du Toit








